Klein-Kariba Herontwikkeling

Hartenbos Seefront

Klein-Kariba herontwikkeling

Herontwikkeling: Klein-Kariba - 'n Leeftyd se Lekker

'n Leeftyd se Lekker

Ons is tans hard besig om ATKV-Klein-Kariba tot sy volle glorie te herstel voor dit weer op 1 September 2014 oopmaak. Hou hierdie blad dop vir foto’s en nuus oor hoe die herbou vorder!
 
Ons kan egter nie al die werk alleen doen nie. ATKV-Klein-Kariba is nie net 'n vakansieoord nie – dis 'n tradisie. Daarom het ons het julle hulp nodig om ‘n Leeftyd se Lekker vas te vang!
 
Jy kan help op die volgende maniere:
 
Deel jou ATKV-Klein-Kariba storie
Vertel ons jou snaaksste, interessantste en ja, vreemdste verhale! Ons wil hoor van daardie gesteelde soen agter die restaurant, jou middernagtelike wandeling op die dammuur (ons sal dit nie teen jou hou nie!) en die spesiale vakansie wat jy saam met jou hele familie by ATKV-Klein-Kariba gehad het. Gaan na www.facebook.com/ATKVOORDE om jou storie te deel.
 
Borg-'n-Boom

Om ATKV-Klein-Kariba weer in 'n lushof te omskep het ons bome nodig… en baie! Kliek op die Borg-'n-Boom skakel op hierdie webwerf om jou lewende bydrae aan die oord te maak. Elke geborgde boom kry 'n plaatjie met die borg se naam op.
 

’n Spatseltjie groen . . .

Eers ry ons met die bakkie op die tydelik geskraapte paaie waaraan die kontrakteurs hard werk, tot so na as moontlik aan ons bestemming. Daarna ’n entjie stap deur die slote wat voorberei word vir die nuwe riolering en waterpype, nog bietjie klim en klouter oor stapels klippe, modderige grondwalle en dan uiteindelik die trappe! Dis die oorspronklike trappe na die chalets teen die berg, grasgroen geverf -  ’n spatsel groen in die chaos. Bo gekom, roep Riaan net “Kom julle!” en uit die bosse kom hulle aangehardloop – twee van die oord se katte wat elke dag kos kry om hulle aan die lewe te hou. Die katpille word op ’n muurtjie vir hulle uitgegooi en hulle smul dadelik.

Ons stap nog ’n entjie tussen die verlate chalets en ek begin dink aan die geweldige taak wat voorlê om al die wooneenhede weer gereed te maak vir die opening van die oord in September. En daar staan hulle! Die bosbokkies wei ewe rustig tussen die bome en steur hulle min aan ons. En die wonder:  geen diere het in die vloed omgekom nie! Hulle is almal daar en wag vir die nuwe seisoen van ATKV-Klein-Kariba. Soos die kameelperde wat hulle nuwe baba wegsteek tot die tyd reg is om hom vir die wêreld te wys.

Drie maande na die vloed het ons gaan kyk hoe dit met ons ‘vloed’kinders gaan wat op die oord bly en vir ATKV werk. Dis moeilik om jou in te dink aan die trauma wat die werknemers van ATKV-Klein-Kariba ervaar het gedurende die verwoestende wal water wat hulle op Vrydag 7 Maart getref het. Hulle het onverpoos gewerk, eers om al die gaste uit die oord te begelei – en ook hulle voertuie wat eers moes agterbly - deurnag gewerk om te red wat moontlik was.
Die verwoesting is so groot! Ek staan daar by die rivier wat na die dam toe lei en jy kan nie glo wat jou oë sien nie. Met ’n knop in die keel neem ons foto’s van sandbanke waar eers water gevloei het, van pragtige groot ou bome wat vernederend uit die aarde geruk is en op die sandbank lê – ontbloot en uitmekaargeruk. Die dam is stille getuienis van die oorblyfsels van die eeue oue bome – oral steek die takke en dik-dik wortels van hierdie ou grotes uit  – ’n hulpkreet.
Bokant die waterval, sê hulle, is die lêplek van die luislange. Hulle het ook gevlug. ’n Wal drie meter het oor die waterval gestoot en alles voor platgevee.

By die restaurant wag nog katte vir hulle daaglikse rantsoen. Hulle kom dadelik as Riaan en Suzanne roep. Waar die kiosk eens was, kom Garfield uitgestap. Dié gemmerkat lyk net soos die karakter wie se naam hy dra, en hy het niks van sy meerderwaardigheid verloor nie. Vir hom moet daar gewag word, hy laat hom nie aanjaag nie!

Teen die onderdakswembad se muur staan ’n paar ongeskonde plante, hulle het die verwoesting vrygespring – ’n spatseltjie groen hoop.

Ons stap deur die eens gesellige restaurant – dis net ’n geraamte. Die dak is af, vensters weg, stukkende toerusting, boumateriaal in hopies waar die kontrakteurs werk. Ek onthou die heerlike ontbyt wat ons al daar gaan eet het, dink aan al die vakansiegangers soos hulle op die stoep en binne saamkuier en eet, ek sien voor my geestesoog die talle bruide wat daar by die lapa foto’s laat neem het en die knop kom weer terug.
By die woonstelle is nog vier jong katjies wat vir ons sit en wag. Hulle kan nie gou genoeg op die muurtjie spring en begin vreet nie. Hulle bly daar tussen die slote en agter die verlate geboue, bring hulle dae eensaam daar deur, want daar is geen kinders wat “Kietsie, kietsie” roep nie. Later, toe hulle magies vol is, maak hulle eers weer gesiggies en lyfies skoon.

Ons staan daar waar die speelpark eers was. Tussen die modder en opdrifsels staan die skelgroen rondomtalie waarop kinders so graag al in die rondte tol, hoe vinniger hoe lekkerder.  ’n Spatseltjie groen hoop.  Ja, die ou ATKV-Klein-Kariba is verniel.

Die nuwe ATKV-Klein-Kariba wag om te ontluik soos ’n skoenlapper uit die papie.

Erna Maritz