Skip to the content

SSSSSNAKE! Wees ingelig en voorbereid – Deel 3

In ons nuwe maandelikse rubriek gesels ons oor die verskillende slangsoorte waarvoor vakansiegangers op die uitkyk moet wees by ATKV-oorde … Hierdie week is dit ATKV-Klein-Kariba se beurt.

Klein-Kariba is geleë in Limpopo se Waterberge en, net soos by die twee vorige oorde waarna ons al gekyk het, is hier ook glibberige vriende waarvoor mens bewus moet wees. Daar is wel van die spesies wat ons al voorheen behandel het (die mamba, boomslang, pofadder en bergadder) so, gaan lees maar die vorige artikels op die webwerf as julle meer van hulle wil weet. Die kobra-spesies is egter nogal volop in Limpopo!

Volgens Wim de Wet, oordbestuurder van ATKV-Klein-Kariba, is die meeste slange wat by die oord voorkom die swartmamba, pofadder, Bosveldkapel en die Mosambiekse spoegkobra. Daar is ook heelwat luislange wat gereeld gesien word. Hoewel hulle nie gevaarlik is nie moet hulle, soos al die ander slange, uitgelos word. “Daar was enkele slangbyte oor die laaste 12 jaar vandat ek hier werk, van mense wat die slange probeer hanteer het.” 

Daar is 78 verskillende slangspesies in Limpopo waarvan 37 spesies onskadelik is, nege daarvan kan seer pik dog nie dodelik nie, en sewe kan potensieel dodelik wees. 

Vir meer inligting oor die gif waaroor slange beskik, asook wat om te doen indien ’n slang jou pik, lees asseblief ons vorige storie oor slange by ATKV-Drakensville. Klik net hier.

Vakansiegangers by Klein-Kariba wat nuuskierig is oor slange en ander reptiele kan by die Makopa Reptielpark net ’n klipgooi van die oord af gaan kuier. Daar is ’n verskeidenheid reptiele van Australië, Suid-Amerika en Noord-Afrika te sien met selfs ’n koalabeer en ’n Burmese albino luislang. Demonstrasies word ook gedoen, en besoekers kan in die teetuin ontspan en kyk wat die aandenkingswinkel alles bied.  

Die volgende giftige slange is eie aan die omgewing van Klein-Kariba waarvan besoekers moet weet: 

Egiptiese kobra/Bosveldkapel/Wipneuskobra (Naja annulifera)

Gif: Neurotoksies en sitotoksies

Klassifikasie: Baie gevaarlik

Lengte: 2.5 m 

Voorkoms: Limpopo, die Laeveld en die Bosveld

Die Bosveldkapel is bekend daarvoor dat hy sy prooi gedurende die dag jag en is lief vir muise, rotte en paddas. Hierdie slang is nie aggressief nie, maar sal nie skroom om te pik as hy bedreig voel nie. Slangbyte is gelukkig redelik raar. Net soos die rinkhals kan die Bosveldkapel ook maak of hy dood is. Hy word gereeld verwar met die Mosambiekse spoegkobra, maar die slang kan nie gif spoeg of sprei nie. Net soos die mambaspesies, kan hulle tot 20 jaar oud word. Hy word gereeld in uitgeholde termiethope gevind, en sal vir jare daar bly as hy nie gesteur word nie.

’n Interessante feit oor die Bosveldkapel: Hierdie slang eet ook ander slange, en selfs die gevreesde pofadder is nie veilig nie!

’n Mite oor die Bosveldkapel: Daar word beweer dat koningin Cleopatra haarself laat pik het deur dié slang om haar dood te veroorsaak.

Mosambiekse spoegkobra (Naja mossambica) 

Gif: Sitotoksies

Klassifikasie: Baie gevaarlik

Lengte: 1 m tot 1.8 m

Voorkoms: Gauteng, Limpopo, Noordwes en Mosambiek

Dié slang is verantwoordelik vir meeste van die ernstige bytgevalle in Suid-Afrika, maar gelukkig is sterftes baie min. Die Mosambiekse spoegkobra kan ook sy gif akkuraat spoeg of sprei oor ’n afstand van twee tot drie meter. Die slang is baie aktief gedurende die nag en dis nie vreemd dat mense soms in hul beddens gepik word nie. Veral in die plattelandse dele van Swaziland waar inwoners op grasmatte slaap kan die slang in ’n pes ontaard. Net soos die wipneuskobra sal jy hom vind by droë rivierlope en in uitgeholde boomstompe. Die spoegkobra se gif kan vergelyk word met die Mojave-ratelslang van Amerika.

’n Interessante feit oor die Mosambiekse spoegkobra: ’n Duitse wetenskaplike, Wilhelm Peters, het hierdie slang vir die eerste keer opgeteken in 1854.

’n Mite oor die Mosambiekse spoegkobra: Blase sal op jou vel uitslaan as die spoegkobra jou spoeg. Die gif is net gevaarlik indien jy in die oë gespoeg word, wat jy dan dadelik met water moet uitspoel.

Voëlslang (Thelotornis capensis capensis)

Gif: Hemotoksies

Klassifikasie: Baie gevaarlik

Lengte: 1.2 m tot 1.5 meter

Voorkoms: Limpopo, KwaZulu-Natal

Die voëlslang is perfek gekamoefleer en word baie selde gesien waar hy baie stil sal wag vir akkedisse en ander slange as prooi. Voëlslange het verskillende patrone en kleurskemas. Kleure wissel van wit tot grys met klein swart spikkels oor die lyf. Soos wat hulle ouer word, verskyn daar oranje merke op hulle koppe en die patrone op die lyf word meer kompleks – wat hulle dan net soos boomtakke laat lyk. Die wêreldbekende herpetoloog, Robert Wilhelm Mertens, se dood is veroorsaak deur dié slang, wat hy as ’n troeteldier aangehou het.

Daar is geen teengif as die voëlslang jou pik nie.

’n Interessante feit oor die voëlslang: Die Zoeloes glo dat hierdie slang jou net soos ’n spies pik en beseer as gevolg van die blitsige spoed waarteen hy aanval.

’n Mite oor die voëlslang: Die storie loop dat dié slang die voëls “lok” met sy helderoranje tong, wat onwaar is.