Skip to the content

OPWINDENDE NUUS

Beste ATKV-gas

Dit is met groot opwinding dat die ATKV-bestuur die volgende inligting meedeel. ATKV Buffelspoort is oop vanaf 18 September. Skakel gerus die oord by 014 572 1000 of bespreek aanlyn by https://www.atkvoorde.co.za/bespreek/.

Die oordpersoneel verlang na die geure van die braaivleisvure, kinders op hul fietse, roomys om die swembad en melkskommels in die Koswerf Restaurant, en sien daarna uit om julle binnekort weer op die oord te verwelkom. Ons sien daarna uit om elke gas weer met ope arms – of eerder met ʼn elmbooggroet – op die oord te verwelkom, en wil graag die volgende veranderinge onder julle aandag bring, sodat julle weet wat om te verwag wanneer julle ons besoek. 

  1. Wanneer ons u op die oord verwelkom, sal ons personeel ten alle tye hul maskers/gesigskerms dra en hulle hande ontsmet.
  2. Elke besoeker (dus alle individue in ʼn gesin/groep) sal gevra word om ʼn COVID-19-vraelys te voltooi en om hul temperatuur te laat neem voordat hulle by ontvangs mag registreer.
  3. Alle kredietkaartmasjiene word voor en na elke gebruik met 'n alkoholgebaseerde ontsmettingsmiddel met 'n alkoholinhoud van minstens 70% ontsmet.
  4. ʼn Afstand van minstens 1.5 m word gehandhaaf en sosiale tussenruimtes word aangedui.
  5. Fasiliteite sal gereeld ontsmet en skoongemaak word.
  6. Eenhede sal gereeld tussen aankomste met higiëniese middels berook word. (ʼn Gesondheidsertifikaat sal vir elke eenheid deur die verskaffer uitgereik word.)

Eenhede:

Eenhede en elke tweede staanplek is oop vir bespreking. Besprekings word tot ʼn besetting van 40% beperk gedurende die infaseringsperiode, om sosiale tussenruimtes te kan handhaaf.

Fasiliteite:

Die volgende fasiliteite sal oop wees:

  1. Warm swembaddens. 
  2. Glybaan en minigholf: Slegs ʼn beperkte aantal spelers sal per sessie toegelaat word, en die glybaan sal slegs in sessies oop wees.
  3. Winkel en restaurant se wegneemetes (beperkte ure). 
  4. Tennisbaan.
  5. Muurbalbaan.

Terwyl ons geleidelik oopmaak, wil ons elke gas daaraan herinner dat elke landburger en persoon op een of ander manier geraak is deur hierdie pandemie. Ons oorde het vir maande lank leeg en stil gestaan en personeel het getrou by die huis gebly, soos deur die regulasies bepaal. 

Dit is ons pleit dat elke gas geduldig sal wees met die infasseringsperiode en die verantwoordelikheid sal opneem om na hul eie en hul familie se gesondheid, die gesondheid van die personeel en die ander gaste sal omsien deur die regulasies, soos deur die bestuur uiteengesit, na te kom. Lees gerus meer oor ATKV-oorde se gesondheids- en veiligheidsprotokolle: https://www.atkvoorde.co.za/covid-19-protokol/

Ons waardeer u geduld en verwelkom ook u mening. Ons sal steeds met die “nuwe normaal” streef om te verseker dat elke gas wat ons oord besoek sy/haar vakansie ten volle geniet. Ons wag op u aankoms.