Skip to the content
Lynthia Julius

Suurdeegroosterbrood

Lynthia Julius is nie net bekend vir haar betowerende gedigte nie (sy was immers die wenner van die 2018 AVBOB-gedigtekompetisie), sy is ook ’n meester roosterbroodmaker – en sy wys ons vandag hoe om die resep baas te raak soos net ’n Namakwalander kan.

Nou kyk, ek is in Namakwaland gemaak en laat staan. Daar ken ons nie van pap maak as jy braai nie. Dit het ek in Kimberley kom leer en toe gesien dis ’n vaste ding by ’n braai by die beminde se mense in die Vrystaat. Ek ken van roosterbrood as daar moet gebraai word en nie wafferse roosterbrood nie – suurdeegroosterbrood. Daai wat met die aartappelskille gemaak word in ’n glasfles. Nie hierrie pers-en-groen-pakkies yeast wat mens by die winkel koop nie. Okay, daai is seker maar orraait, maar daai’s nie die een wat jou maag laat smile nie. Jy eet hom, maar net oor hy daar is. Smaak skoon na karton as jy hom die volgende oggend wil eet, my mond soek hom nie. 

Lynthia Julius

Jou maag dans van die brood en dit word van nageslag tot nageslag oorgedra. En vroue dra dit oor. Sterk vroue. My ma leer en leer, maar my hande is nog dom vir die knie en ek sal moet regkom, want toe die beminde eers my ma se roosterbrood geproe het toe soek die Vrystater nou sommer aanmekaar die brood. Lyk hy ken van daai brood hier in Bloemfontein. 

Nou die dag bel ek my ma (wat g’rus op verlof en in Springbok is): “Mammie, hoe maak mens suurdeegbrood, stuur stap vir stap.” Okay. Voicenote op WhatsApp. So verduidelik Mammie en so skryf ek neer. 

Hier bel ek weer toe sy t’rug in Kimberley is. Airtime op die App gekoop en die App herinner jou goed hoe vêr paydag is. “Nee, man, Mammie ek soek details.” Sy kom toe van die werk af ná ’n lang dag van verpleegster wees buite Kimberley. “Okay, Lynthia, en luister tog nou reg.”

Bestanddele 
Skille van twee (groot) aartappels 
Halwe teelepel suiker 
Kwart teelepel sout 
Gooi dit in ’n fles. (My ma gebruik gewoonlik ’n mayonnaisebottel.)
By daai bestanddele gooi jy ’n driekwart koppie louwater in. 
Jy sit nou die fles in koerantpapier en dan in ’n warm plek. 
Laat staan tot die volgende oggend.
Wanneer jy die volgende oggend die fles oopmaak moet daar skuim in die fles wees. 
As daar skuim is het dit gerys. 

Nou hoegemaak nou, Mammie?

Gooi nou die skuim af deur ’n sif in ’n bak. 
Vat die skuim wat jy afgegooi het en gooi ’n koppie meel in en knie. 
Jou deeg moet slap wees, maar nie pap nie. 
Sit dit weer in ’n warm plek vir ’n uur en los hom om te rys.
Nou as hy klaar gerys het, gooi jy ses koppies meel in ’n skottel.
Dan ’n halwe teelepel sout, dan  twee teelepels suiker. 
Maak in die middel van die deeg ’n holte en gooi die suurdeeg in die middel van die deeg. 
Nou gooi jy 500 ml louwater in, maar jy gooi dit bietjie vir bietjie in en so knie jy. 
Die deeg moet nou elasties wees. 
Jy sit hom weer in ’n skoon doek laat hy hitte kry. 
As hy klaar gerys het, knie jy hom t’rug. 
Ná die t’rugknie moet jy weer wag tot hy rys. 
Sit nou die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak. 
Rol die deeg uit en sny in blokkies. 
Laat nou die gesnyde blokkies uitrys en gooi meel bo-oor hulle. 

En dan?

Jou vuur moet nou al klaar kole wees. 
Die rooster hoog bo die kole. 
Braai van kant tot kant. 
Dis belangrik dat jy hulle kort-kort omdraai. 
Braai hulle vir so ’n halfuur na ’n driekwartier. 

En daar het jy dit. Die vrouens in my familie se resep. Generasie tot generasie oorgedra deur sterk vrouens. Die brood wat my grootgemaak het, die brood wat my mens gemaak het, die brood wat ons nou nog by ons huis eet. So ek moet nou maar die knie-ding agter die rug kry, want as ek meisiekjeeners het moet ek hulle die goed leer – al bly ons ook nou in New York of Kaïro.