Skip to the content

Opwindende nuus: ATKV-Drakensville is oop vir besprekings

Beste ATKV-gas

Dit is met groot opwinding dat die ATKV-bestuur die volgende inligting meedeel. ATKV-Drakensville is oop vir besprekings. Skakel gerus die oord by 036 438 6287 om uit te vind vanaf watter datum jy kan bespreek of bespreek aanlyn by https://www.atkvoorde.co.za/bespreek/.

Die oordpersoneel verlang na die geure van die braaivleisvure, kinders op hul fietse, roomys om die swembad en melkskommels in die Koswerf Restaurant, en sien daarna uit om julle binnekort weer op die oord te verwelkom. Ons sien daarna uit om elke gas weer met ope arms – of eerder met ʼn elmbooggroet – op die oord te verwelkom, en wil graag die volgende veranderinge onder julle aandag bring, sodat julle weet wat om te verwag wanneer julle ons besoek. 

  1. Wanneer ons u op die oord verwelkom, sal ons personeel ten alle tye hul maskers/gesigskerms dra en hulle hande gereeld ontsmet. Gaste moet asseblief kennis neem dat reëls rakende maskers dra en hande ontsmet met aankoms deurgegee sal word. Dit is van kardinale belang dat hierdie reëls nagekom word. 
  2. ʼn Gasteskanderingstasie sal by die oord se hoofingang opgerig word, waar elke besoeker hulle temperatuur moet laat neem en hulle hande moet ontsmet. ʼn COVID-19-vraelys sal vooraf aan elke besoeker (dus alle individue in ʼn gesin/groep) gestuur word om voltooi te word. Hierdie vraelys sal met aankoms by die hoofhek nagegaan en ingeneem word. 
  3. Deurry-ontvangs sal so ver moontlik toegepas word, sodat volledig voorafbetaalde besprekings se sleutelpakkies (sleutel, vrywaringsvorms en permitte) aan gaste beskikbaar gestel kan word by die hoofhek, eerder as by die ontvangskantoor.
  4. Neem asseblief kennis dat die hoofhektye aangepas word na 06:00-22:00.
  5. ʼn Afstand van minstens 1.5 m word gehandhaaf en sosiale tussenruimtes word aangedui.
  6. Weens gesondheidsrisiko's sal kontantlose transaksies aangemoedig word (krediet-/debietkaart). Alle uitstaande gelde moet binne 48 uur (weeksdae/werksdae) voor aankoms betaal word.
  7. Skoonmaakdienste vir die eenhede, buiten voor aankoms en na vertrek, is opsioneel en gaste kan met aankoms aandui of hulle van die skoonmaakdiens gebruik wil maak of eerder verkies dat niemand in die betrokke eenheid moet inkom nie.
  8. Eenhede sal gereeld tussen aankomste met higiëniese middels berook word, en sal vir gebruik geroteer word, sodat die moontlikheid vir infeksies verminder kan word en om kans te gee vir die beroking om behoorlik gedoen te word. (ʼn Gesondheidsertifikaat sal vir elke eenheid deur die verskaffer uitgereik word.) 

Eenhede en kampering:

Besprekings word beperk tot ʼn besetting van 50% gedurende die infaseringsperiode, om sosiale tussenruimtes te kan handhaaf. Kampeerstaanplekke is soos volg beskikbaar: September 2020 se langnaweekbesprekings sal nagekom word, daarna word dit beperk tot ‘n besetting van 50%.

Fasiliteite en aktiwiteite:

Die volgende fasiliteite sal oop wees:

  1. Winkel: Die winkel se aangepasde bedryfsure sal met aankoms deurgegee word.
  2. Koswerf: Slegs wegneemetes is beskikbaar. Die restuarant se aangepasde bedryfsure sal met aankoms deurgegee word.
  3. Onderdakswembad: Sessies van slegs 90 minute, maksimum 50 persone per sessie word toegelaat en 30 minute daarna vir ontsmetting. Die onus rus op gaste om self sosiale tussenruimtes in die swembad te handhaaf. Neem asseblief kennis dat die onderdakswembad se tye aangepas word na 07:00-21:00.
  4. Kiosk: Swembadkiosktye sal met aankoms deurgegee word.
  5. Buiteswembad by onderdakswembad: Die buiteswembad sal nie warm gemaak word nie. Die onus rus op gaste om self sosiale tussenruimtes toe te pas.
  6. Glybaan: Beperkte ure wat met aankoms deurgegee sal word. 
  7. Minigholf: Slegs 'n beperkte aantal spelers sal per sessie sal toegelaat word.
  8. Kultuurtoer: Beskikbare tye sal met aankoms deurgegee word.
  9. Wipmatte: Slegs ʼn beperkte aantal persone toegelaat, sodat sosiale tussenruimtes behou kan word.

Die volgende aktiwiteite is beskikbaar en tye sal met aankoms deurgegee word. Slegs 10 persone word toegelaat, sodat sosiale tussenruimtes behou kan word.

i. Klimmuur
ii. Verfbal-teikenskiet
iii. Windbuksskiet
iv. Staptogte
v. Foefieglybaan
vi. Abseil
vii. Perderitte

Neem asseblief kennis dat die volgende fasiliteite ongelukkig gesluit sal bly en eers sal heropen wanneer die voorgeskrewe reëls verander: 

  1. Monsterskaak
  2. Speletjieskamer
  3. Muurbalbaan en vlugbalbaan
  4. Kouewaterswembad
  5. Dagbesoeke is gesluit en geen besoekers aan gaste word toegelaat nie.  

Terwyl ons geleidelik oopmaak, wil ons elke gas daaraan herinner dat elke landburger en persoon op een of ander manier geraak is deur hierdie pandemie. Ons oorde het vir maande lank leeg en stil gestaan en personeel het getrou by die huis gebly, soos deur die regulasies bepaal. 

Dit is ons pleit dat elke gas geduldig sal wees met die infaseringsperiode en die verantwoordelikheid sal opneem om na hul eie en hul familie se gesondheid, die gesondheid van die personeel en die ander gaste sal omsien deur die regulasies, soos deur die bestuur uiteengesit, na te kom. Lees gerus meer oor ATKV-oorde se gesondheids- en veiligheidsprotokolle: https://www.atkvoorde.co.za/covid-19-protokol/

Ons waardeer u geduld en verwelkom ook u mening. Ons sal steeds met die “nuwe normaal” streef om te verseker dat elke gas wat ons oord besoek sy/haar vakansie ten volle geniet en lekker by ATKV-Drakensville ontspan. Ons wag op u aankoms.