Skip to the content

Opwindende nuus: ATKV Klein-Kariba is oop vir besprekings

Beste ATKV-gas

Dit is met groot opwinding dat die ATKV-bestuur die volgende inligting meedeel. ATKV Klein-Kariba is oop vir besprekings. Skakel gerus die oord by 014 736 9800 om uit te vind vanaf watter datum jy kan bespreek of bespreek aanlyn by https://www.atkvoorde.co.za/bespreek/.

Die oordpersoneel verlang na die geure van die braaivleisvure, kinders op hul fietse, roomys om die swembad en melkskommels in die  Kits Koswerf Restaurant, en sien daarna uit om julle binnekort weer op die oord te verwelkom. 

Die veiligheid en gesondheid van ons gaste en personeel is ons eerste prioriteit, en daarom streef ons daarna om ʼn veilige en skoon omgewing aan ons gaste en personeel te bied. Ons verwelkom u graag terug by u gunsteling-huis-weg-van-die-huis. Ons wil graag die volgende gesondheids- en veiligheidsprotokolle onder julle aandag bring, sodat julle weet wat om te verwag wanneer julle ons besoek, en wat nodig is om aan te pas by die “nuwe normaal”.

Neem asseblief kennis dat hierdie gesondheids- en veiligheidsprotokolle kan verander namate die oord na verskillende fases beweeg, en dat die verandering tydig aan gaste deurgegee sal word.

  1. Besprekings en al die nodige dokumentasie moet voor aankoms volledig voltooi en betaal word. Ons ontvangspersoneel sal u help om u aankoms by die oord so maklik en gerieflik moontlik te maak. As u die ontvangsarea moet binnegaan as gevolg van onvolledige dokumentasie, let asseblief daarop dat  ʼn snelrykonsep so ver moontlik toegepas word sodat elke gas/besoeker die minimum kontak met personeel het. Hierdie proses kan weens die veiligheids- en gesondheidsprotokolle ʼn bietjie langer neem. U geduld en samewerking in hierdie verband word hoog op prys gestel.  
  2. Elke besoeker (dus alle individue in ʼn gesin/groep) sal gevra word om ʼn COVID-19-vraelys te voltooi en om hul temperatuur te laat neem voordat hulle by ontvangs mag registreer.
  3. Personeel is volgens industriële standaarde vir COVID-19 opgelei met weeklikse opdaterings om te verseker dat alle openbare areas en algemene raakpunte gereeld skoongemaak en ontsmet word. 
  4. Wanneer ons u op die oord verwelkom, sal ons personeel ten alle tye hul maskers/gesigskerms dra en hulle hande ontsmet. Daar word van u verwag om gesigmaskers te dra en sosiale tussenruimtes van minstens 1.5 m te handhaaf.
  5. Skoonmaakdienste vir die eenhede, buiten voor aankoms en na vertrek, word vir die res van 2020 nie meer ingesluit nie.
  6. Neem asseblief kennis dat oordfasiliteite en aktiwiteite beperk sal word, wat aangepaste bedryfsure tot gevolg sal hê. Hierdie bedryfsure kan verander namate die oord na verskillende fases beweeg.

Eenhede:

Besprekings word gedurende die infasseringsperiode tot ʼn besetting van 40% beperk, om sosiale tussenruimtes te kan handhaaf.

Fasiliteite:

Al die  fasiliteite sal oop wees, behalwe:

  1. Die waterglybaan 
  2. Die springmatte.

Terwyl ons geleidelik oopmaak, wil ons elke gas daaraan herinner dat elke landsburger en persoon op een of ander manier geraak is deur hierdie pandemie. Ons oorde het vir maande lank leeg en stil gestaan en personeel het getrou by die huis gebly, soos deur die regulasies bepaal. 

Dit is immers ons pleit dat elke gas geduldig sal wees met die infasseringsperiode en die verantwoordelikheid sal opneem om na hul eie en hul familie se gesondheid, die gesondheid van die personeel en die ander gaste sal omsien deur die regulasies, soos deur die bestuur uiteengesit, na te kom. Lees gerus meer oor ATKV-oorde se gesondheids- en veiligheidsprotokolle: https://www.atkvoorde.co.za/covid-19-protokol/

Ons waardeer u geduld en verwelkom ook u mening. Ons sal steeds met die “nuwe normaal” streef om te verseker dat elke gas wat ons oord besoek sy/haar vakansie ten volle geniet en lekker by ATKV Klein-Kariba ontspan. Ons wag op u aankoms.