Skip to the content

Opwindende nuus: ATKV-Natalia is oop vir besprekings

Beste ATKV-gas

Dit is met groot opwinding dat die ATKV-bestuur die volgende inligting meedeel. ATKV Natalia is oop vir besprekings. Skakel gerus die oord by 031 916 4545 om uit te vind vanaf watter datum jy kan bespreek of bespreek aanlyn by https://www.atkvoorde.co.za/bespreek/.

Die oordpersoneel verlang na die geure van die braaivleisvure, kinders op hul fietse, roomys om die swembad en melkskommels in die  Kits Koswerf, en sien daarna uit om julle binnekort weer op die oord te verwelkom. Ons sien daarna uit om elke gas weer met ope arms – of eerder met ʼn elmbooggroet – op die oord te verwelkom, en wil graag die volgende veranderinge onder julle aandag bring, sodat julle weet wat om te verwag wanneer julle ons besoek. 

  1. Wanneer ons u op die oord verwelkom, sal ons personeel ten alle tye hul maskers dra en hul hande ontsmet.
  2. Daar sal skerms op wees by die ontvangs, winkel en restaurant vir u veiligheid, sowel as die veiligheid van ons personeel.
  3. Elke besoeker (dus alle individue in ʼn gesin/groep) sal gevra word om ʼn COVID-19-vraelys te voltooi, hulle hande te ontsmet en om hul temperatuur te laat neem voordat hulle by ontvangs mag registreer.
  4. Neem asseblief kennis dat ʼn afstand van minstens 1.5 m gehandhaaf moet word en dat sosiale tussenruimtes aangedui word. Dit is van kardinale belang dat hierdie reëls nagekom word. 
  5. Weens gesondheidsrisiko's sal kontantlose transaksies aangemoedig word (krediet-/debietkaart). Geen OTM is vir kontantonttrekkings op die oord beskikbaar nie.
  6. Fasiliteite sal gereeld ontsmet en skoongemaak word.
  7. Eenhede sal gereeld ontsmet word en tussen aankomste met higiëniese middels berook word. (ʼn Gesondheidsertifikaat sal vir elke eenheid deur die verskaffer uitgereik word.)
  8. Neem ook asseblief kennis dat ʼn COVID-19 nakomingsbeampte aangestel is om ten alle tye ʼn veilige en higiëniese omgewing te verseker.

Eenhede en kampering:

Besprekings word tot ʼn besetting van 40% beperk gedurende die infaseringsperiode, om sosiale tussenruimtes te kan handhaaf.

Fasiliteite:

Die volgende fasiliteite sal oop wees:

  1. Swembad (nie onderdak nie): Slegs 60 persone sal weens sosiale tussenruimtes op ʼn slag toegelaat word.
  2. Wipmatte.
  3. Glybaan: Die glybaan sal slegs in sessies oop wees (2 ure per dag), Sondae uitgesluit.
  4. Minigholf.
  5. Winkel en restaurant se wegneemetes (beperkte ure). 
  6. Strand met lewensredders (onderhewig aan die regulasies). 
  7. Snoekertafel (slegs 1 tafel).

Neem asseblief kennis dat die speletjieskamer ongelukkig gesluit sal bly en eers sal heropen wanneer die voorgeskrewe reëls verander.

Terwyl ons geleidelik oopmaak, wil ons elke gas daaraan herinner dat elke landsburger en persoon op een of ander manier geraak is deur hierdie pandemie. Ons oorde het vir maande lank leeg en stil gestaan en personeel het getrou by die huis gebly, soos deur die regulasies bepaal. 

Dit is immers ons pleit dat elke gas geduldig sal wees met die infaseringsperiode en die verantwoordelikheid sal opneem om na hul eie en hul familie se gesondheid, die gesondheid van die personeel en die ander gaste sal omsien deur die regulasies, soos deur die bestuur uiteengesit, na te kom. Lees gerus meer oor ATKV-oorde se gesondheids- en veiligheidsprotokolle: https://www.atkvoorde.co.za/covid-19-protokol/

Ons waardeer u geduld en verwelkom ook u mening. Ons sal steeds met die “nuwe normaal” streef om te verseker dat elke gas wat ons oord besoek sy/haar vakansie ten volle geniet en lekker by ATKV Natalia ontspan. Ons wag op u aankoms.