Skip to the content

Koronavirus dokument

Beste ATKV-Kliënt

Na aanleiding van die stappe wat pres. Cyril Ramaphosa op 15 Maart aangekondig het om die verspreiding van die koronavirus in Suid-Afrika te bekamp, onderneem ATKV-oorde om as verantwoordelike Suid-Afrikaanse burgers op te tree, en vertrou ons dat alle besoekers en reisigers aan ons oorde, ook die President se versoeke en riglyne sal nakom.  ATKV-oorde waardeer julle onvoorwaardelike ondersteuning en dat julle ons oorde as voorkeur vakansie-bestemming kies. Ons wil asseblief versoek dat ons gaste ag sal slaan op die onderstaande skrywe.

Die ATKV se bestuur monitor die inligting wat deur die WGO beskikbaar gestel word deurlopend.  

 

COVID-19  

  • Die virus word met druppelbesmetting versprei.  Die doeltreffendste manier om besmetting te voorkom, is dus om noue persoonlike kontak met mense wat siek en moontlik besmet is, te vermy.  Persone met verswakte immuunstelsels is veral vatbaar en moet uiters versigtig optree.  
  • Die situasie verander voortdurend.  Die departement van gesondheid en die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS) sal die publiek op die hoogte van die jongste verwikkelinge hou.  Dit is elkeen se eie verantwoordelikheid om op hoogte hiervan te bly, om nie onbevestigde gerugte te versprei nie en om die nodige voorsorgmaatreëls te tref.  
  • Indien daar ’n uitbreking sou wees, is dit baie belangrik dat mense nie paniekerig moet raak nie en dat almal hulle volle samewerking moet gee om verdere verspreiding te voorkom.  

 

SIMPTOME  

Simptome sluit tipiese verkouesimptome soos hoofpyn, koors, asemhalingsprobleme en hoes in.  

 

MOETS EN MOENIES  

  • Indien jy vermoed dat jy besmet is, moenie sonder enige vooraf kennisgewing dokter, kliniek of hospitaal toe gaan nie.  Jy kan gesondheidwerkers en ander (insluitende siek mense) onnodig en onbewustelik aan die virus blootstel.  Bel eers die dokter, kliniek of hospitaal om hulle te laat weet dat jy siek is, sodat hulle kan voorberei om jou veilig en doeltreffend te ontvang.  
  • Kliënte wat vrees dat hulle reeds besmet is, moet met hul plaaslike mediese praktisyn skakel om verdere instruksies te kry.  
  • Was jou hande gereeld deeglik met seep en water.  Indien jy bekommerd is, oorweeg dit om ’n handontsmettingsmiddel (handreiniger) met ’n minimum alkoholinhoud van 70% aan te skaf vir gebruik wanneer jy die huis verlaat.  
  • Bedek jou mond met ’n stuk materiaal of jou elmboog wanneer jy hoes of nies.  Probeer om nie oppervlaktes met jou liggaamsvog te besmet nie.  
  • Dit word sterk aanbeveel dat jy teen griep (die 2020-entstof sal binnekort beskikbaar wees) en ook teen pneumokokale infeksies (indien vir jou aangedui) ingeënt word.  Dit sal die las op die gesondheidsorgstelsel verlig, jou vermoë om te werk beskerm, en dit kan voorkom dat jy as ’n moontlike COVID-19-geval geïdentifiseer word.  Die belangrikste is dat dit siekte in die algemeen – nie net COVID-19 nie – sal help voorkom.  

 

KANSELLASIEBELEID EN BESPREKINGSPROSES:

Gegewe dat daar nie tans ʼn binnelandse reisverbod is nie, bly ons oorde oop en operasioneel.  Gaste is dus welkom om besprekings aanlyn te maak, of hul oord van keuse direk te skakel of in kontak te kom met ons agente by die ATKV Sentrale besprekingskantoor.

Ons wil graag gaste aanraai wat hul besprekings wil kanselleer, om te oorweeg om hul besprekings te skuif na later in die jaar.  Ons sal die volle randwaarde van u bespreking nakom, dus as u sou skuif na ʼn goedkoper tyd van die jaar, sal ons die verskil aan u terugbetaal.  Indien u skuif na ʼn periode waar die tariewe hoër is, sal u slegs die verskil hoef in te betaal.

Ons sal egter, tot verdere kennisgewing, nie groepbesprekings van meer as 100 mense kan neem nie.

Let asb. dat ons bestaande kansellasiebeleid geld, en kan gevind word by die skakel: https://www.atkvoorde.co.za/bepalings-en-voorwaardes/.  Die kansellasiebeleid is op alle bestaande besprekings van toepassing.  Terugbetalings op kansellasies sal volgens die kansellasiebeleid geskied.

Vir enige besprekings wat gemaak word vanaf 23 Maart 2020 vir besprekings buite langnaweke en skoolvakansies, sal die depositobeleid aangepas word, sodat deposito’s eers 14 dae voor die aankomsdatum betaalbaar sal wees.  Volle betaling van uitstaande bedrae sal steeds op die dag van aankoms vereis word.

 

WANNEER JY BESPREEK:

Die veiligheid en gesondheid van ons gaste en personeel is ons eerste prioriteit.  Indien u wel besluit om ons oorde gedurende hierdie tydperk te besoek, wil ons u verseker dat ons personeel daarop let om hoë higiëniese en veiligheid standaarde toe te pas:

  • Ekstra personeel sal aangestel word t.o.v. skoonmaakdienste in ablusieblokke om sodoende skoonheid en netheid te verseker.
  • Alkohol-gebaseerde handsmeermiddel sal by die Ontvangstes, winkels en restaurante beskikbaar gestel word.
  • Publieke areas sal ook meer aandag geniet.
  • Personeel se gesondheid word ook elke dag gemonitor.  

 

GEDURENDE JOU BESOEK:

Tydens jou besoek versoek ons graag dat gaste die volgende in gedagte hou/toepas:

  • Vermy, so ver moontlik, fisiese kontak met mede gaste
  • Ons stel voor dat gaste vir ʼn wyle sal wegskram van die tradisionele bladskud of soen-groet
  • Ons stel voor dat huisgesinne meer kwaliteit tyd in gesinsverband spandeer deur aan aktiwiteite soos bv. staproetes aan te pak of bordspeletjies in die eenheid te geniet om sodoende die ontstaan van groter groepe om die swembad te vermy.  Geniet steeds die swembaddens, maar hou u besoek aan die swembaddens tot 30-45 minute
  • Gun asseblief ander gaste hulle persoonlike ruimte
  • Let asseblief noukeurig op na jou persoonlike higiëne  

 

VERMAAKAANBOD

Gegewe die riglyne rondom groeperinge van mense meer as 100, is daar besluit om ons vermaakaanbod oor Maart en April 2020 ingrypend aan te pas.  Dit beteken dat gaskunstenaars se optredes nie sal plaasvind nie, so ook nie enige vermaakaktiwiteite waar daar fisiese kontak of groot groeperinge van mense kan wees nie.

Vir gaste wat die vermaakfooi betaal het, sal die waarde van die vermaakfooi wat betaal is gegee word in koepons wat gebruik kan word in die oord se Koswerf asook die winkel (laasgenoemde gebruik van koepons by winkels sluit nie ATKV-Hartenbos in nie). By ATKV-Eiland Spa kan hierdie koepon slegs vir brandstof by hulle vulstasie en Koswerf gebruik word.

 

VOORKEURBESPREKINGS

Graag wil ons ook net ons lede gerusstel dat die datums vir voorkeurbesprekings onveranderd sal bly.

 

INLIGTINGSBRONNE  

Die ATKV se bestuur doen ’n beroep op kliënte om op die hoogte van sake te bly.  Betroubare inligting is by die volgende bronne beskikbaar:  

  • Die departement van gesondheid  
  • Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NIOS)  
  • Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO)  

U kan ook die hulplynnommer 080 002 9999 skakel of Whatsapp nommer gebruik 060 012 3456 soos in die President se aankondiging aangedui.

Die ATKV sal die situasie monitor en inligting op die relevante ATKV-webwerwe publiseer.