Skip to the content
Resensie

Resensie: Here’s to the now deur Nathan Smith

Veertien jaar nadat sy debuutalbum in 2006 die lig gesien het, word Nathan Smith se nuwe solo-albumHere’s to the now, deur verskeie Suid-Afrikaanse kunstenaars as ’n meesterstuk beskryf. Die eerste twee enkelsnitte speel ook al vir ’n wyle reeds die Suid-Afrikaanse radio aan die brand.

As jy self hierdie album nader hark, raak dit vinnig duidelik dat hierdie alombekende kitaarspeler en sessiemusikant beslis ook ’n kunstenaar in eie reg is en dat musiek behoorlik deur sy are pomp.

Here’s to the now bestaan uit twaalf oorspronklike liedere wat Nathan se vernuf as liedjieskrywer duidelik ten toon stel, ’n talent waarmee hy al van dertienjarige ouderdom af woeker. Hierdie diepdeurdagte lirieke word vasgevang in popklanke en blues melodieë, wat hierdie ’n besonderse lekker-luister album maak.

Die eerste lied op die album, Here’s to the now (van waar ook die titel), handel daaroor dat ons dikwels in ons gejaag soveel wonderlike oomblikke in die lewe miskyk en dat dit soms nodig is om net hier en nou te leef.

Hierdie album spog ook met Nathan se eerste oorspronklike gospelliedjie, genaamd Closer. In hierdie lied word sy liefde en verwondering vir sy Skepper, asook die soeke daarna om nader aan Christus te groei, duidelik. Nóg ’n lied wat hom na aan die hart lê, Aidan, word opgedra aan ouers wat ’n kind aan die dood moes afstaan en het sy ontstaan gehad nadat Nathan se susterskind sy stryd teen ’n outo-immuunsiekte verloor het.

Uiteraard is dit moeilik om elke snit in detail te bespreek, maar hier is net ‘n paar van die hoogtepunte op die album. Dit het Nathan Smith lank geneem om weer ’n solo-album bekend te stel, maar Here’s to the now was beslis die wag werd, en kan gerus by jou versameling gevoeg word.