“Groen is die land van Natal,” klink die liedjie. Maar die droogte ontsien niks en niemand nie. Teen einde 2019 het die Drakensville-omgewing soos die Mieliedriehoek in die Vrystaat gelyk – vaal en geel. En ’n vakansieoord sonder water is rampspoedig. In 2011 is 1 069 mm reën vir die jaar op die oord gemeet, terwyl daar in 2019 net 609 mm reën vir die jaar gemeet is. Dis byna die helfte minder reën en ’n aanduiding van die droogte wat die streek tans ondervind. Petré Theron, oordbestuurder van ATKV-Drakensville, vertel ons hoe hulle planne gemaak het.
Ons het sedert 2014 twee boorgate op die oord, sterk genoeg om die oord in selfs hoogseisoen te voorsien van alle waterbehoeftes. Dan is daar ook Eskom wat gesuiwerde water aan ons verskaf vanaf sy suiweringsaanleg ongeveer 2 km van die oord af.
Watter gevolge het die droogte vir dié twee waterbronne gehad?
Die twee boorgate het totaal en al onvoldoende geword om selfs net in 10% van ons behoeftes te kan voorsien. Eskom, met sy gepaardgaande krisisse, se voorsiening het ook begin taan, en die oord was regtig op die randjie van ’n waternood.
Watter uitdagings het die sink van die boorgate destyds ingehou?
Tydens die sink van die boorgate om water te kry, het ons besef dat ons daardie boorgatwater ook eers deur ’n suiweringsproses sal moet sit ten einde gesonde bruikbare water aan ons gaste te kan verskaf. Daar is toe begin met die installering van ’n suiweringsaanleg om die boorgatwater sonder reuk of smaak aan gaste te kan voorsien.
Daar was egter nog steeds by ons die besef dat ons nie onbepaald van Eskom afhanklik sal kan wees vir voldoende watervoorsiening nie, saam met die besef dat ons met sogenaamde gryswater sit wat, benewens die aanwending vir besproeiing, uiteindelik wegloop in die nabygeleë spruitjie.
En boere is bekend vir planne maak, reg?
Inderdaad. Vanuit hierdie besef is die gedagte gebore om die gryswater nog verder te suiwer sodat ons dit ook weer vir menslike gebruik kan aanwend. Daar is toe begin met die installering van nog ’n aanleg. En ná vele aanpassings is ons nou uiteindelik ook by die punt waar hierdie water gesuiwer en teruggeplaas word in die stelsel vir menslike gebruik.
Om die kwaliteit van ons gryswater te verhoog, is daar by die uitmond van die stormwaterpype van die oord se dreineringstelsel reservoirs gebou om alle stormwater op te vang en te herlei na ons gryswaterdam.
Ter opsomming: Hoe werk julle watersuiweringproses dus in geheel?
Fase 1
Drakensville se drinkwater is afkomstig vanaf 2 boorgate, asook die Departement van Waterwese. Hierdie water is van swak kwaliteit en bevat hoë vlakke van swael. In Fase I het ons drie filters geïnstalleer met ʼn UV lamp en chlorineerder.
Die water word dan na opgaardamme gepomp waarna dit in die oord gebruik kan word.
Hierdie stelsel suiwer 150- tot 200,000 liter per uur.
Fase 2
Op Drakensville word die rioolwater verwerk en dan in ʼn opgaardam gestoor. In Fase II het ons hierdie opgaarwater begin suiwer vir menslike gebruik. Alle afvoerwater word verwerk en weer gesuiwer. D.w.s. grys- en swartwater.
Die terugspoelwater van die swembaddens sowel as van hierdie stelsels gaan ook weer terug om gesuiwer te word.
Ons het ook opgaartenks aan die onderpunte van die oord gebou, om alle reënwater op te vang en na die opgaardam te voer.
Die rioolwater- suiweringsaanleg. Die aanleg kan tussen 3- en 4,000 liter water per uur suiwer.
Die groter dam is waarheen die rioolwater gepomp word vir die eerste stap in die suiweringsproses. Na die eerste stap gaan dit na die kleiner dam en van daar af gaan die finale produk na die groen tenks om by drinkwater gevoeg te word.
Hier kan die reënwater opvangsareas gesien word. Van hieraf graviteer dit na die opgaardam.
Hierdie is die riool opgaardam waar alle water opeindig en van daar af word dit gepomp na die boonste stelsels vir suiwering.
So alle water word nou herbenut?
Korrek. Ons is dus nou in die posisie waar daar letterlik geen water van die oord verlore gaan nie; ons poog om alle water te behou.