Skip to the content

Geagte ATKV-kliënt

Ons betree ‘n tydperk in wêreldgeskiedenis, ongeëwenaar vir die meeste van ons. Net die mees wys-en-grys in ons geledere sal dae onthou waar die wêreld, en Suid-Afrika, moes saamstaan om ‘n aanslag op ons lewenswyse teë te staan.

Die ATKV-oorde steun ten volle die maatreëls wat President Ramaphosa op 23 Maart aangekondig het. Hierdie maatreëls sal help verseker dat Suid-Afrikaners veilig en gesond bly, dat die mediesebedryf en –werkers noodsaaklike gesondheidsorg aan die publiek kan lewer en dat ons wet en orde handhaaf. 

Hierdie inperking het natuurlik ook ‘n impak op ons oorde, en sal die oorde sluit vanaf 11:00 , Donderdag die 26ste Maart, en weer heropen (onderhewig aan die lig van die inperking deur die Staat) op 17 April 2020. 

Gegewe die inperking wat in plek gestel word vanaf 24:00, die 26ste Maart, is daar ‘n impak op gaste wat reeds bespreek het by ons oorde tydens die periode van inperking. Vir die ATKV-oorde om volhoubaar te bly en in die toekoms steeds perfekte gesinsvakansies aan te bied, vra ons ook nou u hulp.

Ons maak ‘n beroep op alle gaste wat bespreek is tydens die periode 26 Maart – 16 April, om u bespreking te skuif na later in 2020. Ons het ook nou die eerste 6 maande van 2021 beskikbaar gemaak, en is gaste welkom om ook hul bespreking na hierdie tydperk te skuif. Ons sal u verder bystaan, deurdat die bespreking op die huidige randwaarde geskuif word na 2021, sonder ‘n verhoging in die tarief, wat normaalweg in Maart 2021 van krag sou kom. Op hierdie manier help u ons ook om seker te maak dat, nadat die inperking verby is, ons kan voortgaan om ons normale hoë standaarde van diens te kan handhaaf en ons oorde in stand te hou en te kan opgradeer. 

Indien u nie u bespreking wil skuif nie, kan u die oord waar u bespreek het kontak en ons vriendelike agente sal u bystaan.

Hierdie maatreëls gaan ons elkeen persoonlik en professioneel raak, en ons gaan as verantwoordelike burgers moet hande vat en saamwerk sodat almal, insluitend die mees kwesbare individue in ons samelewing, in die nabye toekoms kan terugkeer na ‘n beter normaliteit.

Ons wens u elkeen sterkte toe, wees verseker dat u nie alleen is nie en ons hoop om u spoedig weer by ons oorde te verwelkom.