Skip to the content

GEWILDE kykNET-OGGENDPROGRAM, ONTBYTSAKE, SKENK 6 700 LITER SOP VIR MANDELA-DAG

Ontbytsake, die gewilde kykNET-ontbytprogram (kanaal 144) wat daarop fokus om vir klein- en medium-sakeondernemings nasionale blootstelling te gee, is al so deel van Afrikaanssprekendes se Saterdagoggend soos ’n lekker koppie boeretroos. 
 
Die dinamiese span – Dawie Roodt (ekonoom), Leon Gropp (musikant), Eloise Cupido (aktrise), Corli Botha (sjef) en die produksiepersoneel – agter hierdie geliefde program sê nie sommer nee vir ’n uitdaging nie en probeer om altyd ’n verskil te maak waar hulle kan.
 
Daarom het hulle nie twee keer gedink om betrokke te raak toe hulle kombuisborg, AEG, hulle uitdaag het om deel te neem aan Chefs with Compassion se jaarlikse sop-uitdaging op 18 Julie 2022 nie.
 
Chefs with Compassion is die grootste jaarlikse samewerking van sjefs, gemeenskappe en groot besighede om ’n verskil te maak, en vanjaar het hulle beoog om op Mandela-dag (18 Julie 2022), 67 000 liter sop te maak en te skenk aan verskeie welsynsorganisasies wat kos aan behoeftiges voorsien.
 
In samewerking met The B-Loved Foundation, ’n nie-winsgewende organisasie wat deur The B4i Project (die oorhoofse maatskappy waaraan Ontbytsake ook behoort) gestig is om minderbevoorregte gemeenskappe te ondersteun, het die Ontbytsake-span ingespring en 10% (dus 6 700 liter) van die totale sop-teiken bygedra. 
 
’n Hoë kwaliteit droë sopmengsel, wat vinnig in ’n voedsame, heerlike sop omskep kan word is gebruik. Corli het op Saterdag, 16 Julie 2022 op die program wys hoe dit lyk en hoe vinnig dit is om te maak.  Kyk die heruitsendings op kykNET en kykNET & Kie.
 
Die 67 000 liter-sopuitdaging het op Mandela-dag in 2020 afgeskop en het sedertdien al aan sowat 600 000 honger mense kos voorsien. 
 
Buiten daarvoor om self sop te maak, kan belangstellendes ook steeds help deur skenkings te maak aan The B-Loved Foundation wat die sop op grondvlak sal versprei aan uitgesoekte begunstigdes in Gauteng.

 
“Om vir ons land se vroue te gee, is om vir ’n beter Suid-Afrika te staan. Die B-Loved Foundation maak met oorgawe ’n bydrae om voedsel by almal, maar veral by weerbare vroue en kinders, uit te kry op Mandela-dag” sê Octavia Ephraim, direkteur van The B-Loved Foundation.