Skip to the content

Twee musikante uit die gesogte publisiteitsagentskap, Starburst Promotions, se stal is deur die gewilde
kykNET-ontbytprogram, Ontbytsake, genooi om deel te neem aan hulle kompetisie vir onafhanklike
kunstenaars én om op te tree by dié program se opwindende buitelugkonsert op 30 Julie 2022 by
Hazeldean Valley Trails.
 
Muller Brandt, wat pas sy debuut-enkelsnit en -musiekvideo – Moedertaal – uitgereik het se eerste
album word op 9 September vrygestel en hy is baie opgewonde om meer van sy eie musiek met die
publiek te deel.
 
“Die album gaan baie van my persoonlikheid verklap. Dis ’n reis deur my wese, van diep musiek tot ligter
liedjies. Ek glo ons het dit reggekry om getrou te bly aan die oorspronklike Afrikaanse klank, alhoewel dit
met moderne elemente vermeng is,” sê die dertigjarige kunstenaar wat al vir twaalf jaar in die bedryf
doenig is.
 
Verder voel hy geëerd dat Ontbytsake hom gekies het om aan die kompetisie deel te neem en sien hy
baie uit na die opkomende konsert.
 
Simoné Roets, wat onlangs teruggekeer het na Suid-Afrika nadat sy in Australië gewoon en werk het,
voel net so bevoorreg om deel te wees van die kompetisie en buitelugkonsert. “Ek sien uit om my
musiek tydens die buitelugkonsert te deel. Dit gaan akoesties wees – soos die meeste van die liedjies
geskryf is!”
 
Dié sangeres en liedjieskrywer wat die afgelope paar maande verskeie treffers oor die radio (Dans in die
Donker en Ongerep) gehad het, en wat in Februarie 2023 haar eerste album vrystel, is ses-en-twintig-
weke swanger met ’n babadogtertjie en sy en haar man, Estiaan, sien uit na die nuwe hoofstuk waarin
hulle lewe beweeg.
 
“Ons is bitter opgewonde en is gereed vir ons lewe om totaal en al te verander,” sê sy oor haar goeie
nuus.
 
Die Ontbytsake span, wat bestaan uit Dawie Roodt (ekonoom), Leon Gropp (musikant), Eloïse Cupido
(aktrise) en Corli Botha (sjef), glo daarin om ’n verskil te maak en betrokke te wees by die ontwikkeling
van kuns en kultuur, en beskou hierdie kompetisie as gulde geleentheid om vir opkomende talent ekstra
blootstelling te gee.
 
Hulle het ook op Madela-dag 6 700 liter sop geskenk aan behoeftiges as deel van Chefs with Compassion
se jaarlikse sop-uitdaging, nadat hulle deur kombuisborg, AEG , uitgedaag is.
 
Muller en Simoné sal op Saterdag, 30 Julie 2022, saam met ander kunstenaars vermaak bied tydens die
Ontbytsake se eerste bergfietsresies en familiedag wat in Pretoria plaasvind. Klik hier vir meer inligting.

ATKV-Oorde

Surreylaan 348
Randburg
Gauteng
Suid-Afrika

E-posadres: 
oordedigitaal@atkv.org.za
Besprekings: 
+27(011) 919 9092