Skip to the content

Sentrum vir Geloofsvorming

Die Sentrum vir Geloofsvorming het ontstaan uit my woestyn ervaring van amper 3 jaar in 2000-2002. Die woestyn het my gestroop tot op die been en my gereedgemaak vir ʼn nuwe inisiatief van Jesus die Here in my lewe.

Na ʼn internasionale konferensie het ek Sy fluistering gehoor: Gys jy is amper 50 maar ek en jy gaan oor begin. Ek gaan jou terug te neem na die hart van die Christelike geloof en dit sal die res van jou lewe neem om die een woord te ontdek, te integreer in jou lewe. Die een woord is Jesus! Sy pad met my het nuut begin met my herontdekking van Jesus.

Die Sentrum het bewus geword van die volgende uitdagings: 

  • Ons het ons misgis met Jesus. Ons bedoel hiermee dat Hy veel meer as ‘n Verlosser is (al is dit hoe wonderbaar!) Baie Christene het verveeld geraak met Jesus, terwyl Paulus oor Jesus praat - met verwondering.
  • Herontdek die hart van die Christelike geloof as ‘n eerstehandse leer ken en leef met Jesus Christus die Here.
  • Jesus as Leermeester het feitlik verdwyn uit die kerk terwyl sy woorde die grootste wysheid is wat ooit oor menslike lewe op die planeet uitgespreek is.
  • Ons het geloofswaarhede in die kop maar dit verander nie ons lewe nie.
  • Ons leef maklik verby onsself en daarom dikwels met groot emosionele onvolwassenheid wat geweldige negatiewe gevolge het vir ons menswees en al ons verhoudinge
  • Ons sit dikwels vasgevang in destruktiewe gewoontes/habits.
  • Hoe word ons egte mense wat voluit lewe?

 Daarom fokus die Sentrum vir Geloofsvorming op die volgende:

  • Die herontdekking van Jesus.
  • Sy uitnodiging om nou hier saam met hom in die koninkryk te lewe, as egte mense wat voluit lewe . (Joh 10:10)
  • Die klem is nie lidmaatskap nie – maar dissipelskap – ‘n lewenslange reis van radikale vorming – totdat Hy in ons gestalte kry (Gal 4:19)
  • Vir hierdie reis is die eerstehandse leer leef met Jesus en die hoor van sy stem
  • asook die eerstehandse leer ken en leef met onsself (selfkennis) van wesenlike belang,
  • in diep vriendskap met mekaar
  • Om só saam met Jesus ‘n verskil te wees en te maak in ons wêreld.

Sedert 2008 was meer as 300 predikante deel van ʼn 3-jaar reis. Ek was bevoorreg om van die grootste en diepste transformasie wat ek in mense al gesien het, te beleef.

Twee getuienisse van persone wat reeds op Geloofsreis gegaan het, en steeds is:

  • Dit was een van die mees sinvolste “kursusse” wat ek nog ooit bygewoon het. Soos min ander intervensies, is hierdie een geloofs- en lewensveranderend.
  • Dis vanjaar tien jaar gelede wat ek die laaste sessie van die geloofsreis vir predikante voltooi het. Anders as so baie ander kursusse en seminare van die verlede is dit die een wat na tien jaar steeds ’n radikale invloed op my verhoudings, bediening en, heel meeste, my wandel met God het. Dit is omdat dit nie ʼn kursus is nie, maar ʼn reis waarop ek op die regte tyd ingenooi is en wat sedertdien nooit opgehou het nie, maar steeds groei in betekenis.

Hierdie 3-jaar reis is nou herverpak vir enige gelowige, enige denominasie.

Die Reis word vanjaar as 3 naweek retraites by Goudini Spa en Buffelspoort aangebied.

Ds. Gys van Schoor en sy vrou Thea is deel van ‘n span by die Sentrum vir Geloofsvorming – wat ʼn droom het om talle leiers, en mense in Suid-Afrika, Afrika maar ook wêreldwyd met hierdie goeie nuus te bereik. Jy word dus genooi om in vennootskap te gaan met die Sentrum van Geloofsvorming om jou te help om jou reis met die Here verder te verdiep en toegerus te word vir ons daaglikse lewe.

Twee ATKV-oorde bied in 2023 op die volgende datums ʼn geleentheid vir jou om deel te kan raak met die reis saam met Jesus:

  • Goudini Spa (10 tot 12 Maart, 9 tot 11 Junie en 15 tot 17 September) Koste beloop R2 700 per gesin. Indien pare akkommodasie deel beloop koste R1 650 per paar. Koste sluit kursuskoste en twee etes in).
  • Buffelspoort (5 tot 7 Mei, 21 tot 23 Julie en 13 tot 15 Oktober) Koste beloop R2 997 per paar wat akkommodasie deel. Indien enkel, beloop die koste R 2000 (Koste sluit kursuskoste in).

Etes ingesluit is een aandete,  ʼn noenmaal, tee en koffie met verversings gedurende die kursus. Indien gesinne bywoon en kinders gaan genoemde etes bywoon is die prys R180 per kind.

Met betaling noem die verwysing GoudiniGeloofreis2023 in die geval van bespreking by Goudini Spa en Buffelspoortgeloofres2023 vir besprekings by Buffelspoort.

Die konsepprogram vir die naweke sal kortliks soos volg wees:

Vrydag

  • 17:00 tot 19:00 Verwelkoming (bring en braai)

Saterdag

  • 08:30 Sessie 1
  • 10:30 Noenmaal
  • 11:15 Sessie 2
  • 13:00 Middag breek
  • 14:30 Sessie 3
  • 15:45 Tee en Koffie
  • 16:00 Sessie 4
  • 17:30 Ontspan en geniet die oord se fasiliteite
  • 19:00 Aandete

Sondag 

  • 08:30 Sessie 5
  • 10:45 Tee en koffie
  • 11:15 Sessie 6
  • 12:00 Afsluiting

Besprekings kan gedoen word deur Goudini Spa vakansieoord te skakel by;

 (023) 349 8181 of n epos te stuur na KonfGO@atkv.org.za

Besprekings kan gedoen word deur Buffelspoort vakansieoord te skakel by;

 (014) 572 1000 of ʼn epos te stuur na louisev@atkv.org.za